An Ode to Discomfort

the harshest of landscapes

honour the value of life

suddenly the slightest sign of it

is a celebration

and as it draws the water from the ground

so also it draws thankfulness

from our being

SOLD
120 x 120 cm

Ons het vir omtrent twee van my vormingsjare op ’n plaas buite Beaufort-Wes gewoon. Voor dit was ons in Natal. Die Karoo was ’n skok vir ons sisteme. Maar my oupa het die Karoo geken, en van die begin af het ek in hom ’n absolute liefde vir daardie uitmergelende landskap raakgesien. Twee jaar was genoeg om te besef: mens verlaat nie die Karoo onveranderd nie. Die reën is daar mooier in die dor as wat ek dit op enige ander plek beleef het. Net wanneer jy dink jy het die omvang—en selfs soms die goddeloosheid—van die uitgestrekte vlaktes begryp, kom die reën. En dan, uit die stof en klippe, bars daar ’n oorvloed lewe voort wat jou stom laat staan. Wat noem ’n mens daardie wollerige rooi spinnekoppies wat oral uitkruip wanneer die grond nat word? Ek dink die Karoo het my geleer om altyd ’n bietjie ruimte vir misterie te laat—om nie te gou en met arrogansie te sê jy verstaan ’n plek of ’n mens nie. Elke keer as ons daardeur ry, sê my man die omgewing maak hom senuweeagtig. “Mens is nie gemaak om so ver van water af vesting te soek en te oorleef nie,” sê hy. Dan glimlag ek net vir die man uit Limpopo, maak my oë toe, en probeer onthou hoe die sterre in die nag vanaf ons plasstoep gelyk het. Die lewe is nêrens maklik nie, maar juis daarom is dit so mooi.