
mooi is dikwels duur
dit kos tyd, en raaksien
intensie
maar kosmos wag nie vir dit nie
kosmos gil van oordadigheid
van uitspattigheid
mooi of jy wil of nie
My ouma was mal oor kosmosblomme. As ek dit sien, sien ek ‘n spesifieke foto wat ons van haar geneem het, waar sy in wat lyk soos pienk kosmos staan. Sy is die son, alles wentel om haar. Dit was vir my interessant om te ontdek dat kosmos eintlik ‘n indringer is, net soos die jakarandas. Dit kom blykbaar van Meksiko. Daar’s een of ander storie van hoe mens die roete wat die perde geloop het in die oorlog baie duidelik kan sien aan waar die kosmos groei. Ek besef my ouma se roete oor my hart is ook gemerk deur spore kosmos—deur die mooi wat daar gegroei het oor sy daar geloop het. Is dit nie die wonderlikste gedagte nie, dat ons ‘n tuin maak in die mense om ons?