
Tussen bossie en rand
het 'n brokkie ek
gebreek geval gerol
wat my roep
om telkens weer te soek
Is dit nie opvallend hoe ons, tussen die niks, onsself so dikwels vind nie? Ek dink dis een van my gunsteling-aspekte van hierdie roete. Soveel van die plekke waardeur mens reis, is ver verwyderd van ’n wêreld waarin ons tuis is. Jy is uit jou element. Dit wat in ’n vorige leeftyd belangrik was, voel skielik ver en irrelevant. Dalk is dit maar die Karoo—’n vereenvoudiger van die lewe, ’n suiweraar van perspektief, en ’n uitnodiging om te heroorweeg. Want hier is kilometers en kilometers om ’n nuwe lewe in op te droom.